Matteus 9: 1-8

Koos du Plessis skryf in sy bekende lied Die gebed: Elke afdraaipaadjie ken ek; elke keer het ek verdwaal… Ek en jy is soms afgedwaaldes. Dit is een van baie beelde wat gebruik kan word om ons as mense te beskryf. Soms dwaal ons soos verdwaalde skape rond – ver weg van die huis af, soms té ver om die pad weer terug te kry. Dit is dan dat ek en jy twyfel of God ons nog sal wil terughê. Ons wonder oor die groot vraag: Kan my verlede vergewe word?

Herinneringe aan jou foute vervaag baie stadig en stook ’n eensame vrees: ’n vrees dat jy mense teleurgestel het; dat jy jou span in die steek gelaat het; dat jy tekortgeskiet het; dat jy nie goed genoeg is nie. ’n Vrees dat, toe dit die nodigste was, ons nie ons deel gedoen het nie; dat ander moes swaarkry as gevolg van ons foute en tekortkomings. Kan jou verlede vergewe en afgeskryf word? Om geen toegang tot God te hê nie, laat ’n byenes van bekommernisse op ons los. Ons voel dan soos weeskinders, onbeskerm, weerloos en ontbloot.

Die vrees om God teleur te stel, kom kou aan ons. Maar Christus kom haal die byt uit hierdie vrees as Hy die verlamde man vryspreek en as’t ware opdrag gee om nie te vrees nie. Hy stel ons ook gerus as Hy vir die verlamde sê: Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe. Sien raak hoe Jesus moed en dapperheid en vergifnis van sondes in dieselfde sin gebruik. Kragtige dapperheid begin wanneer die probleem van sonde opgelos word.

As ons rondom ons kyk en die seer en die vrees in mense se oë sien, as ons die vrees hoor spoel oor hul lippe, kan ons verstaan waarom Jesus vergifnis sy eerste vrees-asseblief-minder-aankondiging gemaak het. Ja, ons hét God teleurgestel. Maar nee, God het nie een van ons afgeskryf of weggejaag nie. Hy het ons eerder omarm met: Jou sondes word vergewe!

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link