1 Konings 10: 1-13

Die koningin van Skeba, daar uit die suide, kon haar nuuskierigheid nie bedwing nie en bring besoek aan koning Salomo. Sy het so baie dinge oor hom en die Naam van die Here gehoor. Salomo, die buitengewone koning, wat die buitengewone God aanbid. Dit was sy sogenaamde wysheid wat hom so bekend gemaak het. Sy wysheid het hy van God afgebid. Sy rykdom was sy beloning, maar sy heidense vroue het sy ondergang beteken.

Die koningin pak die reis aan om Salomo met haar eie oë te kan sien. Sy is beïndruk met wat sy sien en hoor, en gee selfs die redes waarom sy glo dat Jahwe vir Salomo koning gemaak het. Omdat die Here Israel altyd liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied (vers 9, AFR2020).

Hiram, die koning van Tirus, het oor Salomo gesê: Die Here moet vandag geprys word, Hy wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het oor hierdie groot volk (1 Kon 5: 7).

Beide koning Hiram van Tirus en die koningin van Skeba erken Jahwe as die God van Israel. Nie één van die twee het enigsins die voorneme of oortuiging gehad om self hierdie God van Salomo te dien nie. Die koningin van Skeba het met groot eerbied verwys na die God van Salomo, maar daar was géén sprake by haar van enige aanbidding van hierdie God nie. Sy het haar maar net verwonder oor ’n God wat sy mense só seën. Haar geskenke moes getuig van haar bewondering vir Salomo, sy mense en die God wat hy vereer.

Dit was darem baie anders toe die sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aankom en navraag doen oor die geboorte van die Koning van die Jode. Hulle kom van ver, van Persië af. Hulle kom egter met die doel om hierdie Koning van die Jode te vind en te aanbid. Jesus, die langverwagte Koning van die Jode: ons Verlosser, die Messias. Epifanie, die verskyning van God deur Jesus in hierdie wêreld van ons. Sy koms het ons lewenstorie kom herskryf.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad

Share via
Copy link
Powered by Social Snap