Romeine 6: 15-23
Om Christen te wees, beteken dat jy op God se woord antwoord. Ons praat nooit eerste nie. Ons antwoord maar net. Toe ons op ’n dag voor die preekstoel gestaan het en belydenis van geloof afgelê het, was dit ’n antwoord, nie ’n eerste woord nie. Mense verander dikwels die volgorde. Hulle wil hê dat jy jou eers moet bekeer, dat jy eerste moet praat, en dan antwoord God jou. Jy moet eers na God soek, en dan vind jy Hom. Maar die Bybel sê dit werk andersom: God praat eerste, dan antwoord ek Hom. Hy vind eerste vir my!
Daar was ’n tyd toe die mens met God kon praat, soos vriende. Maar toe het die mens sy vryheid misbruik. Toe het dinge tussen God en mens skeef geloop, en het God en mens van mekaar vervreem geraak. Toe het daar ’n wonder gebeur. God het weer met die mens begin praat. Hy het met liefdeswoorde met die mens begin praat. Hy het met die evangelie na die mens gekom. Hy het mensewoorde gepraat, verstaanbare woorde, ’n hele Bybel vol. En al wat Hy gesê het, was: Ek het jou nog steeds lief. Hy het nie ’n spul wetswoorde op ons kom aflaai nie. Hy het nie vir ons kom sê wat jy alles moet doen om in die hemel te kom nie. Nee, Hy het met liefdeswoorde met ons kom praat. En as jy hierdie liefdeswoorde van God glo, verander alles. Jy kry die hemel as geskenk. Jy word God se kind. En jy het dit nie eens verdien nie!
Gebed
Here, dankie vir u onvoorwaarlike liefde vir en deernis met ons. Deur die geskiedenis het U na ons omgesien en nie een oomblik geswyg nie. Here, ons vergeet so maklik wat U alles vir ons kom doen het en steeds doen. Ons vergeet so maklik dat U ons uit die woestyn gelei het na die beloofde land. So baie keer, Here, misbruik ons u goedheid. Ons verwag net gunsies en gawes, en kry mildelik uit u hand wat ons nie verdien nie. Here, snoei ons sodat ons weet U is voordurend besig om ons te vorm. Vorm ons sodat ons nog meer vrug kan dra vir die koninkryk. In Jesus Naam bid ons hierdie woorde. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
