Psalm 120

Psalm 120 se digter was ongemaklik met sy omgewing. Die leuens en bedrog van sy wêreld, die veglustige, skoorsoekende, gewelddadige mense om hom, het hom diep geraak.

Ons is vandag ook maar gefrustreerd met die leuens, bedrog en misleiding van hierdie wêreld. Seker die grootste leuen en bedrog is die wêreld wat mense wil wysmaak dat ons sonder God kan klaarkom – die leuen dat ons God eintlik nie nodig het nie.

Dit is egter nie al moeilikheid wat die digter met hierdie wêreld het nie. Hy kla ook in vers 5 oor die tyd toe hy as ’n vreemdeling in Mesek en Kedar gewoon het. Mesek was ver noord van Palestina, en Kedar ver suid van Palestina geleë. Die inwoners van hierdie stede was wilde, gewelddadige en gewetenlose barbare. Hulle was veglustig en kwaadwillig, en die digter van Psalm 120 het tussen hulle gewoon. Daarom dat hy sê dat dit ellendig was toe hy daar moes woon, want sy ingesteldheid, sy manier van doen, was anders. Hulle begeer gevegte, terwyl hy vrede begeer, en daarom was hy soos ’n vreemdeling tussen hulle. Hy moes woon tussen mense, soos hy dit in verse 6 en 7 stel, wat vrede gehaat het en op oorlog uit was, terwyl hy vrede gesoek het.

Ons wêreld se oortuiging is soms dat ons beter af is sonder God. Die ingesteldheid van die wêreld is selfs dat die mens self goddelik is. Gelowiges kies egter anders! Dit is ’n keuse wat ons elke dag maak, om aan God verbind te leef. Om elke dag te kies om te leef soos Jesus Christus ons van God geleer het. Ons leef, eintlik as vreemdelinge in hierdie wêreld, met die oortuiging in ons harte dat God ons liefhet, die wêreld liefhet en die wêreld wil verander.

In Jesus Christus vind ons rus en vrede, nie net vir hierdie aardse pelgrimsreis nie, maar ook vir ons bestemming, ons eintlike tuiste – God se nuwe, vreedsame Jerusalem.

Ds Kobus Celliers, Brits

af
af
Deel met behulp van
Copy link