Matteus 6: 31-34
Een van die moeilikste dinge wat ons in hierdie lewe moet doen, is om in bepaalde fases en tye beheer oor te gee. Dit is vir sommige selfs traumaties om vertroue in iets of iemand anders te stel. In hierdie teks is dit juis wat gevra word, en Jesus verduidelik dit vir die skare op twee fronte.
Die eerste is dat God selfs vir die voëltjies gee wat hulle nodig het, want God weet wat hulle nodig het. Hoekom sal God dan nie ons, sy kinders, ook versorg nie? Daarom leer Jesus die skare om beheer aan God oor te gee, want God weet reeds wat hulle nodig het.
Tweedens praat Jesus oor tyd en geleentheid. Bekommernis neem tyd en energie, wat tot uitputting en uitbranding lei. Deur bekommerd te wees, word jy nie verseker dat dinge in plek gaan val nie. Bekommernis gee ook nie aan jou beheer nie, dit maak jou net bewus van die feit dat jy nie beheer het nie. Daarom sê Jesus dat jy daardie tyd en energie wat jy mors met bekommernis, eerder moet aanwend in die koninkryk van God. Neem die geleentheid, energie en tyd wat jy aan bekommernis bestee, en soek eerder die koninkryk van God. Gee jou “beheer” oor die toekoms aan God oor, want dit was in elk geval net ’n illusie van beheer.
Ons bid vir ons daaglikse brood, en dit is dat ons genoeg insig, krag en geleentheid sal hê vir wat ons vandag moet doen. God sal vir ons môre gee wat ons nodig het om môre te hanteer. Ons moet steeds beplan, voorberei en doen wat ons kan met dit wat ons ontvang. Maar dit help nie om jou geleentheid vandag te verbrou deur die heeltyd te lewe in die onsekerheid van môre nie.
Mag ons onthou dat ons “hierdie dag” reeds gister aan God toevertrou het om ons te gee wat ons vandag nodig het. Laat ons nie die kosbare geskenk van vandag mors met spyt of bekommernis nie, en dit eerder deurbring in ons soeke na die koninkryk van God.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
