Romeine 8: 1-11

Daar is baie van ons wat ongemaklik is met verandering. Verandering bring onsekerheid; ons is gemakliker as ons sekerheid het oor dinge wat in ons lewe gebeur en waaroor ons beheer het. Ons kan soms verandering as negatief beskou, maar verandering is in werklikheid nie altyd negatief nie. Verandering kan ook goed wees.

Paulus dui vir ons in Romeine 8 aan dat ons ’n lewe deur die Gees moet lei. Die enigste wyse waarop dit kan geskied, is deur die Gees wat in ons woon – ons kan nie los van die Gees staan of funksioneer nie. Na Christus se sterwe, opstanding en hemelvaart, ontvang gelowiges die Gees, wat ons in staat stel om te leef volgens God se wil. Al ons handelinge moet deur die Gees gelei word, dan weet ons ons leef soos God van ons verwag. Die Gees word aan ons gegee en dit bring verandering in ons geloofslewe. Die Gees bemagtig ons om te verander, om vernuwe te word in Christus, omdat ons saam met Hom uit die dood opgewek is.

Die Gees bied vir ons krag om God se aktiwiteite in die wêreld voort te sit – om in liefde te leef en om oor Hom te getuig. Ons moet leef vir God se wil en ons moenie fokus op die wêreld se dinge nie; die Gees maak dit vir ons bekend. Die Heilige Gees bied vir ons die gawe om ons gedrag te rig op God se wil.

Ons word vernuwe om in eenheid saam met Christus te leef omdat ons van ons sondes vrygespreek is. Daarom moet ons elke dag poog om beter te leef as die vorige dag. Ons is dood vir die sonde. Christus sterf aan die kruis om ons te verlos en om God se liefde vir ons te openbaar. Daarom moet ons verantwoordelik leef en elke dag dankbaar wees vir dit wat ons uit God se hand ontvang. God bewys elke dag sy liefde vir die mensdom, en só is sy Gees ook teenwoordig in die geloofsgemeenskap se lewe – om ons in liefde te lei.

Prop Hanri Reichel, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap