Handelinge 2: 37-47
Hoe word ’n mens deel van die koninkryk, en hoe sal jy weet dat jy deel is van die koninkryk van God? Met die aanhoor van die verkondiging van Petrus, kom mense tot geloof. Tot geloof kom, beteken om jou te bekeer, jou lewe te verander, deel te word van die plaaslike geloofsgemeenskap. Die doop word die teken van deel word van die volk van God. God vergewe sondes in Jesus Christus, en die Gees word die beseëling van die deel word van die koninkryk van God (vers 38).
Die Reformatoriese Nederlandse teoloog Gisbert Voetius het gesê sending is aksie tot eer van God, ’n oproep tot bekering, en om in te skakel by die kerk (’n geloofsgemeenskap). Natuurlik is die koninkryk groter as die kerk, maar vir seker is die kerk deel van die koninkryk van God. Om deel te word, beteken dus bekering. Maar hoe sal ’n mens dan weet wanneer jy deel is van die koninkryk? Die eerste Christene het uitdrukking aan hul nuwe identiteit in Christus gegee deur anders te lewe. Hulle het volhard in die leer van die apostels, hulle was mededeelsaam in aardse voorsienigheid, en hulle het saam in geloofsaksies gedeel wat bygedra het tot geloofsgroei (verse 42-47).
Hierdie band van onderlinge liefde is teken van deel wees van die koninkryk. Die koninkryk word gekenmerk deur geloof en mededeelsaamheid. Die voorreg om te mag deel wees van die koninkryk is egter nie ’n selfsugtige saak nie. Die uitnodiging om deel te word van die koninkryk word aan alle mense gerig. Ons wat reeds deel is van die koninkryk, het ook aandeel aan die verspreiding van die goeie nuus van die koninkryk. Dit wat ons ontvang het, gaan deel ons uit. Mag u ook die vreugde en blydskap ervaar om te mag deel wees van die koninkryk en hierdie vreugde dan met ander te kan gaan deel.
Gebed
Here, gee ons die wysheid en ywer om die blye boodskap van vergifnis in Jesus met die wêreld te deel. Amen.
Prof Jaco Beyers, Universiteit van Pretoria