Filippense 2: 15-16

Daar is ’n verhaal van ’n kerk in die berge. Hierdie kerk het egter nie ligte gehad nie. As die dorpenaars en die plaasmense saans kerk toe gekom het, het hulle met hul lanterns gekom wat hulle dan binne-in die kerk opgehang het. Dan was daar lig in die kerk. Na die diens het hulle hul lanterns geneem en daarmee teruggestap huis toe. En die kerkgebou was weer donker. Maar oor die heuwels van daardie streek het dit dan gelyk asof die rye ligte vanuit die kerk oor die heuwels stroom. Dit het mense wat van ver af gekyk het, daaraan herinner dat die lig tussen hulle en in hulle was. Hierdie kerk het geen lig binne homself gehad nie. Net die lig wat hulle met hulle saambring en weer uitneem.

Dit is nie elke dag maklik om ’n ligdraer te wees nie. Die harde werklikheid maak dit vir ons makliker om eerder terug te deins waar belediging, korrupsie en kwaad jou nie kan bykom nie. In Galasiërs 5: 22-23 lees ons van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing, en hoe dit sag met mekaar versmelt, as die vrug van die Gees in en deur ons.

Jesus het die lewe van Galasiërs 5: 22-23 kom leef – en dit ook vir ons moontlik gemaak aan die kruis, en deur die Heilige Gees. God gee sy Gees vir ons om ons in die waarheid te lei, om ons in alles te onderrig, en om vir ewig by ons te bly. God wil die wêreld bereik en aanraak deur ons. Hy wil wyer as die kerk uitreik en sy liefde uitstrooi. Ons is hier om na buite te skyn, na waar dit donker is. Juis daarvoor het God ons sy Gees gegee. En ons aan mekaar gegee. Sodat ons saam lig vir sy wêreld kan wees. Kom ons leef as mense van die Lig!

Gebed

Ons is so behep met die alledaagse dat ons die rykdom van die geestelike miskyk. Vergewe ons, Here! Amen.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link