Johannes 10: 7-10

Koos Kombuis sing: Almal sê die lewe is eers môre, maar môre is te laat vir my. Hy is heeltemal reg, die lewe is nou reeds! Jesus se verwysing na die lewe in oorvloed verwys nie uitsluitlik na die lewe hierna nie. ’n Oorvloedige lewe in Christus word reeds hier en nou geleef en beleef. Diegene wat leef met die siening dat die lewe eers môre is, mis baie. Moenie langer wag en dan uiteindelik hierdie wêreld verlaat met die passie en musiek, by wyse van spreke, steeds binne-in jou nie; met al die goed en mooi nog in jou nie, wat dit in jou geval ook mag wees – met onbenutte geleenthede en onervaarde vreugdes besaai langs die grootpaaie en grondpaaie en kronkelpaaie en ompaaie van jou lewe, omdat jy gewag het vir môre. Lewe nou, lewe voluit – maak die beste van elke oomblik.

As jy vrede gemaak het met die verlede, gefokus is op die oomblik en optimisties bly oor die toekoms, begin jy tekens toon van ’n oorvloedige lewe.

As jy besef sukses en besittings bepaal nie wie jy is nie, en mislukking en gebrek ook nie, toon jy tekens van ’n oorvloedige lewe. As jy gevul is met geloof, hoop en liefde, en nie met woede, skuldgevoelens, jaloesie en wraakgedagtes nie, toon jy tekens van ’n oorvloedige lewe.

As jy geleer het om te gee is beter as om te ontvang, toon jy tekens van ’n oorvloedige lewe. Dit is immers die goeters wat mens weggee wat jou ryk maak, om by wyle Lucas Maree te leen.

As jy hoop gee vir wanhopiges, omgee vir verstotenes, hartseer voel saam met hulle wat treur, en bly is saam met hulle wat gelukkig is, toon jy tekens van ’n oorvloedige lewe.

As jy terugkyk sonder bitterheid of spyt, vorentoe kyk met geduldige hoop, afkyk met meelewing en empatie, en opkyk met diepe dankbaarheid, toon jy tekens van ’n oorvloedige lewe. As jy uit jou hart kan sê: Om Christus te ken, oortref alles in waarde, dan hét jy lewe in oorvloed.

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link