1 Timoteus 4: 15; Hebreërs 12: 1-3

Baie mense vertel deesdae met groot smaak dat hulle nie meer kerk toe gaan nie of dat hulle net nie meer glo nie. Ons almal weet maar alte goed dat dit een ding is om met iets te begin, maar iets totaal anders om dit waarmee jy begin het, klaar te maak. Sekere take, pligte en projekte in die lewe is opsioneel, maar ander is noodsaaklik om te voltooi, en so is dit met die wedloop van die geloof. Die dag toe jy ja gesê het en begin deelneem het, het dit meegebring dat jy nou moet volhard.

Paulus het geweet dat die gelowige se pad nie maklik is nie, die wedloop van die geloof is nie ’n ligte drafstappie nie. Dikwels in die wedloop van die geloof sak mense uit. Dalk was jy ook al een of twee keer daar? Dit maak my hart seer as ek mense raakloop wat vroeër witwarm vir die Here was, toe hulle belydenis van geloof afgelê het, tot bekering gekom het, of toe hulle ’n kindjie kom doop het. Maar nou het hulle die kerk nie meer nodig nie, en sommer vir God ook nie.

Die Bybel sê hou die oog gevestig op Jesus. In Hebreërs 12: 3 lees ons: Hou Hom voor oë… Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Daarom is my raad aan jou vandag: Sorg dat jy die raad volg wat Paulus aan Timoteus gee. Wees jy die een wat aanhou glo, volhard, en Jesus voor oë hou. Wees goeie grond waarin die saad van geloof val, sodat almal jou geestelike vordering kan raaksien, en sodat jy weer die saad in ander se harte kan plant.

Gebed

Here, help ons om te volhard sodat ons nie moeg word en uitsak in die geloof nie. Help ons om geestelik te groei deur die Bybel te bestudeer en na die Woordverkondiging te luister. Staan ons by in ons swakheid en maak ons weer gehoorsaam. Stel weer ons morele kompas in, sodat ons in die regte rigting beweeg. Amen.

Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap