Jesaja 11: 1-5; Jakobus 3: 13-18
In die week na die Pinksterfees is dit gepas om na te dink oor die werk van die Heilige Gees.
Van die minder bekende gawes van die Gees word vir ons uiteengesit in Jesaja 11: 1-5. Die gawes (of geeste, soos die Ou Vertaling sê) van wysheid, insig, leiding, krag, kennis en ontsag. Dit is die gawes wat ons hierdie week gaan bespreek.
Elkeen van die gawes gaan ook in die klassieke teologie gepaard met ’n deug. Die gawes van die Gees is soos ’n talent wat ons ontvang het. Die deugde oefen daardie talent in. Jy kan die grootste gholftalent in die wêreld ontvang het, maar as jy nie oefen nie, gaan jy nie ’n professionele speler word nie. Die beoefening van die deugde moedig die gawes van die Gees aan om al hoe meer sigbaar in ons lewens te word.
Die eerste gawe wat ons gaan bespreek, is wysheid en sy gepaardgaande deug, barmhartigheid. Groot gedeeltes van die Bybel – Spreuke en Prediker – word gewy aan die vraag: Wat is wysheid en hoe tree ons op met wysheid? Die belangrikste ding wat ons moet verstaan, is dat Bybelse wysheid gaan oor hoe om prakties in die wêreld te lewe. Dit is juis hierdie praktiese wysheid wat die Gees aan ons skenk. Hoe lyk hierdie wysheid? Jakobus 3: 13 maak dit duidelik: Dit is sagmoedig (vgl die 2020-vertaling). Sagmoedigheid is iets wat spruit uit die besef van wie God is, en ook wie ons is. God is groot en almagtig. Tog het Hy ons sondaarmense lief. En hierdie sagmoedige wysheid bring jou in die regte verhouding met God en word gebruik om vrede te maak (Jak 3: 18, AFR1983). Of in die woorde van Christus: Liefde vir God en liefde vir jou naaste.
Wanneer ons die liefdesgebod nakom en barmhartig is, oefen ons hierdie sagmoedige wysheid in. Dit rig ons lewe om op ’n praktiese manier in hierdie wêreld om te gaan. Nederig, want ons weet ons is sondig. En vergewensgesind, want ons weet die persoon voor ons verdien net soveel barmhartigheid as wat ons reeds van die Here ontvang het.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
