1 Korintiërs 15: 21-28
Ons staan die dag onder ’n wildevyeboom in die Groot Marico-distrik. Ek het pas die teraardebestelling waargeneem en ’n ouderling doen die gebed by die graf. Hy bid: Here, ons staan hier by ’n oop graf, maar dankie dat hierdie oop graf sy angel verloor het omdat daar ’n leë graf was. En daar in een lang sin vat die ouderling die saak waaroor ons die laaste week gesels het, saam. Die dood wat deur die sonde van Adam in die wêreld ingekom het, is omgekeer deur Christus se opstanding uit die dood. Al daardie mense wat “in Adam” gebore is – dit wil sê, die hele fisiese mensdom – word gebore in ’n toestand van sterflikheid, bestem om te sterf. Daarteenoor sal almal wat “in Christus”, deur die doop en die Heilige Gees in Christus opgeneem is, die voorbeeld in Christus se opstanding volg.
En hier in hierdie gedeelte verskuif die klem van die verlede na die toekoms – van Christus se opstanding na ons s’n (15: 23). Paulus bied ’n algemene uiteensetting van ’n drie-stadium-opstandingsproses aan, met ’n duidelike volgorde van gebeure, maar geen spesifieke rooster vir vervulling nie. Eerstens het Jesus Christus uit die dood opgestaan. Jesus het die eersgeborene uit die dood geword (Kol 1: 18), wat aandui dat Hy die eerste “onder baie broers” is om op te staan. Tweede gaan diegene wat aan Christus behoort, opstaan (15: 23). Derde sal die ongeredde dooies uit die dood opstaan (15: 24-27).
En hierin lê ons troos. Hierdie lewe met sy probleme en hartseer is nie die einde nie. Daar wag ’n ewige lewe saam met God op ons na die dood. Die dood verloor sy angel, omdat Christus gesterf het en weer opgestaan het. Omdat Hy voor ons uitgegaan het om ook vir ons plek by sy Vader gereed te maak. Hou vas aan hierdie werklikheid, hierdie vaste hoop. As ons as Christene die dag nie meer hierdie werklikheid het om aan vas te hou nie, sal ons die bejammerenswaardigste van alle mense wees. Gelukkig het ons Heer en Verlosser vir ons die sonde en die dood oorwin.
Ds Willem Sauer, Waterberg
