Openbaring 2: 1-7

Johannes skryf nie vir denkbeeldige gemeentes nie, maar vir sewe werklike gemeentes wat in Klein-Asië hul geloof moes uitleef. Hierdie geloof vind gestalte in die getuienisse wat die gemeentes aflê in woord en daad oor die evangelie van Jesus Christus. Wanneer ons dan lees van die beloftes wat Christus aan elke gemeente gee (Op 2: 7, 17, 28), moet ons besef dit is nie net beloftes vir die toekoms nie, maar ook beloftes bedoel om hulle in hul onmiddellike omstandighede te bemoedig en te verseker van Christus se versorging.

Die godin Artemis en Efese was nou verbind aan mekaar. Die Griekse skrywer Pausanias, asook die skrywer van Handelinge, verwys na Artemis as Artemis van Efese (Hand 19: 28). So ook is daar ’n bytjie aangebring op die silwer beeldjies wat deur die smede in Efese gemaak is van Artemis. Dit is dieselfde insek wat op muntstukke van Efese voorgekom het. Naas die bytjie is daar ook verskeie wilde en mak diere, asook vrugte, op hierdie beeldjies uitgebeeld. So is daar verkondig en geglo dat Artemis, die godin van vrugbaarheid, gesorg het dat die vrug van die land volop is en die mense genoeg het om te oes en te eet.

Johannes verseker die gemeente in Efese egter dat dit nie Artemis is wat hulle sal beskerm en sal sorg dat hulle genoeg het om te eet nie. Hy vertel hulle dat Christus hulle beloof dat aan elkeen wat oorwin (dus, getrou bly aan die evangelie), sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is (Op 2: 7). Soos ons aan die begin gesê het, hierdie beloftes is nie net vir die toekoms bedoel nie, maar ook vir hierdie gemeentes se onmiddellike omstandighede. Op dié wyse verseker Johannes die gemeente in Efese, asook vir ons, dat Christus en geen ander godheid nie, die Een is wat sorg.

Gesang 464: 2

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap