Sefanja 1: 2-18 

Die grootste gif is dat niks meer regtig saakmaak nie; dat ons oor niks meer so vreeslik sterk voel nie, nie eens oor God nie. Die Here doen ons glo geen goed of kwaad meer aan nie. 

Teen sulke stommiteit preek Sefanja hel en verdoemenis in die oortreffende trap uit. Hy doen dit om gehoor te word. Sefanja sien hier kom moeilikheid. Profete voorspel niks, hulle lewer bloot nuuskommentaar, vlek sonde oop, in die hoop dat mense sal terugkeer na God toe. So nie, gaan hier groot moeilikheid kom, want so werk God.

Sefanja laat God praat, die einste God vir wie geen goed of kwaad glo skeel nie. Ek gaan ’n einde maak, sê God, oor en oor, en aan alles! Dis nou genoeg! En nou bly jy stil. God is kwaad vir mense wat Hom as onbenullig afmaak. O, dis nie dat hulle ophou met godsdiens nie, en hulle maak steeds al die regte geluide. Maar as dit by die praktyk kom, is God nêrens van toepassing meer nie. Geloof in God is op dieselfde vlak as om op Vrydag die 13de in die bed te bly: bygeloof!

God straf nie, en God beloon jou ook nie. Jy kan God dus maar ignoreer. Al waarvoor God nog goed is, is om mense ordentlik te hou met vroom sedes en goeie maniere. Maar daarvoor werk Baäl en Milkom ewe goed. Daarom word dié afgode ook hul plekkie gegun.  

Daar kom ’n tyd dat die Here keelvol raak hiervoor. En dis dan dat jy liefs moet stilbly, want voor God regverdig jy jou nie. Dog, die dag as God besluit Hy’s vir hierdie minagting nou hartlik siek en sat, help dit om te weet dat Hy jou wat weens sonde seergekry het, jy wat regtig vir Hom alles veil het, nie saam met die res sal uitroei nie. Hy ken jou goed. Hy bly by jou. Hy gee jou krag.   

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

 

af
af
Copy link