Sefanja 3: 14-20

Hierdie tyd in die kerkjaar is bekend as Eskatologie. In die kerk word nou nagedink oor wat gebeur het in die laaste tyd vóór Jesus se eerste koms na die wêreld. Profete het telkens die volk vermaan om hulle te bekeer, want die dag van die Here is naby.

Die profeet Sefanja praat herhaaldelik van hierdie dag. Dramaties roep hy die volk op: Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! (1: 7). Sefanja word al dringender as hy herhaal: Die groot dag van die Here is naby, baie naby, dit kom gou (1: 14). Hy beskryf die dag as ’n dag van toorn, benoudheid, storms, verwoesting, donkerte, swaar onweer (1: 15). Hy verseker die volk dat niks, nóg silwer nóg goud, hulle sal kan red op daardie dag wanneer die toorn van die Here losbreek (1: 18).

Sefanja troos die volk. Daar is dalk ’n kans op genade: Ruk julle reg vóórdat die dag kom (2: 1). Vra na die wil van die Here … Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die Here (2: 3). Die “miskien” het werklikheid geword, want die Here hét in genade besluit: Ek sal in jou laat oorbly dié wat vertrou op my Naam (3: 12). Soos dikwels, gaan die oordeel gepaard met die belofte van uitkoms. Vir almal is die voorwaarde dieselfde: om nie onreg te doen nie, (3: 13), maar goed te doen.

Sefanja sluit af met ’n loflied, Sing, Sion! Juig, Israel! (3: 14), want die Here maak ’n einde aan die straf. Sion word ’n afbeelding van God se koninkryk waar die nasies die Here se wil doen. Die Here self sal as Koning teenwoordig wees.

Die waarskuwing dat die dag van die Here naby is, het intussen verander in troos en vooruitsig, want daardie dag het reeds gekom. Die genade het werklikheid geword, toe Jesus Christus gebore is in Betlehem. Ons kan uitsien na elke dag van die Here, want die Here het in Jesus Christus na ons toe gekom om ons te kom haal. Laat ons ook juig en sing!

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link