Lukas 13: 18-19

In ons tuine en veral ook in die landboubedryf is daar een ding wat tuiniers en boere ’n groot kopseer gee – onkruid! Jy kan maar onkruid bespuit en uitkap soos jy lus kry, maar dit bly altyd op die een of ander manier weer terugkom. So, vertel Jesus vir ’n skare mense, is God se koninkryk ook. Die koninkryk van God is soos onkruid! In die Bybelse tyd was die mosterdplant ’n onkruidplant wat die tuin oorgeneem het as die sade daarvan eers in die tuin beland het.

Duidelik was dit die geval met die evangelie wat Jesus verkondig het, want oral waar Hy dit verkondig het, was dit vir ’n klompie van die Joodse leiers ’n groot probleem. Hul godsdienstige tuin het net sekere gedagtes rondom God geplant, maar nou kom Jesus met sy gedagtes wat soos onkruid in hierdie tuin versprei het. Jesus moedig juis aan dat Christenskap só moet groei – wild, onverwags en oral!

Alhoewel die mosterdplant ’n onkruid was, het dit tog ook goeie waardes gehad. Eerstens, soos ons dit vandag ken, kan dit gebruik word vir ’n smaak- of geurmiddel by kosse. Tweedens kan dit gebruik word as ’n medisyne vir verskeie kwale. Dit kan gebruik word om verskeie maag-, keel-, mond-, inwendige en uitwendige sere en kwale te genees. Dit kan as ’n teenmiddel gebruik word vir slangbyte en skerpioensteke. Dit kan fungusse neutraliseer. Daarom was dit terselfdertyd ’n baie voordelige plant.

Die koninkryk van God is soos ’n mosterdplant. Dit versprei verwoed, tot so ’n mate dat die evangelie al regoor die wêreld versprei het. Daar waar die koninkryk van God is, bring dit genesing vir mense se harte en wonde. Die grootste genesing is die genesing van ons sondetoestand wat Christus vir ons bewerkstellig het. Ons dank daarom die Here vir die saad van geloof wat geplant is en wat steeds vandag nog wild en welig versprei en genesing bring vir die wêreld.

Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp

Share via
Copy link
Powered by Social Snap