Psalm 46: 11

Die HAT beskryf moed as dapperheid in moeilikheid. Dit is egter nie so maklik om altyd dapper te wees nie! Baie van ons se emosies ry wipplank, en so te midde van die op en af kan dit ons help as ons vaardighede aanleer om ons emosies te hanteer. Hierdie vaardighede was nie vreemd vir die gelowiges van ouds nie – selfs Antonius van die Woestyn het dit al in 300 nC beoefen.

As gelowiges wil ons graag daar wees vir ander – maar om ander te kan help, moet ons eie tenk vol wees. Ons kyk vandag saam na vaardighede wat ons sal help om te rus in God se teenwoordigheid.

Die eerste is die gebed van die hart. Sit gemaklik en regop, en terwyl jy inasem, herinner jou aan iets wat God vir jou doen. Dit is voldoende vir so ses tellings. Nadat jy dit ’n ruk lank gedoen het, neem dit wat jou pla en gee dit met die uitasem vir God, visualiseer hoe jy dit in God se hande plaas. As jou kop te besig raak, erken gewoon die gedagtes wat by jou opkom en gee dit vir God. Om stil te raak voor God, is goed vir jou lewe in totaliteit – geestelik en fisies!

Die volgende vaardigheid is die daaglikse ondersoek. Vra jouself af: Vir watter oomblikke van vandag is ek die dankbaarste? Raak stil, gaan deur jou dag, oordink dit en dank God dan daarvoor. Vra jouself af: Waar het ek God vandag raakgesien in wat om my aangegaan het en wat ek waargeneem het? Raak stil, oordink dit en dank God dan daarvoor. Vra jouself laastens af: Waar het ek vandag verkeerd opgetree? Erken dit, gee dit vir God en aanvaar sy vergifnis, aanvaar dat Hy altyd gereed is om te vergewe.

Kom ons maak tyd om stil te word en in God se teenwoordigheid te rus. Wanneer ons teenwoordig met God leef, ontwikkel ons meer openheid vir onsself, vir mekaar, vir die skepping en vir God.

Gesang 519: 1-4

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap