Lukas 23: 48

Lukas vertel hier iets wat nie in sy bron, die Markus-evangelie, voorkom nie. Letterlik staan daar in die Grieks dat die hele skare wat vir die skouspel bymekaar was, op hul borste geslaan het. Om op die bors te slaan, is nie in hierdie geval ’n uitdrukking van berou of skulderkenning nie. Die 1983 Afrikaanse vertaling gee die bedoeling reg weer. Hulle is verslae oor Jesus wat as onskuldige sterf. Hul gebaar is ’n uitdrukking van teleurstelling oor sy onregverdige veroordeling en teregstelling. Dit kontrasteer nogal met die woord skouspel, wat ’n gebeurtenis aandui wat nie misgeloop moet word nie; iets wat nuuswaardig is en in ’n sekere opsig ’n makabere soort vermaak was. Die effek op die skare is egter nie wat ’n mens sou verwag nie. Waarom nie?

Dit het sekerlik te maak met die afspeel van die grusame toneel voor hulle: Die aanvanklike toneel was skynbaar vir sommige vermaaklik, met al die gespottery met Jesus. Selfs een mede-kruiseling doen mee daaraan. Die toneel verander na somberheid, toe dit van twaalfuur tot drieuur donker word. Op die middel van die dag, wanneer die son op sy helderste moet skyn, is dit donker. Onverklaarbaar. Die Jode sou vanweë hul kennis van die Ou Testament geweet het dat so ’n onverklaarbare donkerte simbolies is van God se oordeel wat voltrek word, soos op die dag van die Here, die oordeelsdag. Wat afspeel, is veel meer as die magspel van die Joodse godsdiensleiers wat van Jesus ontslae wil raak en die Romeine wat ’n opstandeling uit die weg ruim. God is besig om sy oordeel te fel oor die mensdom, oor die skare en oor ons. Die Een wat dit moet verduur, hang aan die kruis. Onskuldig.

Die toneel is nie meer een van makabere vermaak, van leedvermaak nie. Almal is verslae. Hartseer. Bekering en berou sou eers later kom vir sommige. Vir diesulkes is daar ware hoop en vreugde. Nie vermaak nie, maar vervulde lewens danksy die Onskuldige se sterwe ter wille van ons almal.

Gesang 389: 1-3

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link