Psalm 19: 2-7
Soms is dit ’n werklik ontnugterende en besondere belewenis om deur die verskillende dele van ons land te beweeg. Elke stukkie van die skepping toon die sorg van God en die betrokkenheid van die mens. ’n Verskynsel wat wel deur die eeue mense se asems bly wegslaan, is die paar minute van ’n sonsopkoms en ’n sonsondergang se duur.
Wanneer ’n mens deur Psalm 19 lees, sien jy uit die staanspoor hoe die digter bely dat dit in die skepping is dat die woord van God duidelik word. Geluidloos word die majesteit van God oorverdowend aan die wêreld verkondig deur die prag van die natuur. Die digter personifiseer dan die sonsopkoms om die verkondigingselement van die natuur te staaf.
Ek deel nogal sy sentiment, maar ek sien die sonsopkoms, veral in ’n tyd soos hierdie, ook ’n bietjie anders as ’n vrolike bruidegom in die oggend. Dit wil soms voorkom of die sonsopkoms ontaard in ons Here wat soos ’n moeder haar kind met opregte liefde in die oggend ’n soen op die voorkop gee en sê: Môre, my kind; voordat hierdie dag met sy uitdagings begin, geniet hierdie stukkie van die hemel, en weet Ek is lief vir jou.
So ook kom die Here soos ’n moeder aan die einde van die dag weer met ’n voorkopsoen om vir haar lieflingkind te sê: Naand, my kind; hierdie dag is verby, en net soos wat ons die uitdagings van hierdie dag saam weerstaan het, sal Ek met jou wees deur die onbekende gevare van die nag. Geniet hierdie stukkie hemel en weet, jy is nie alleen nie.
Mag ons ook soos die digter van Psalm 19 die Here se teenwoordigheid in die skepping raaksien. Mag ons ook in iets so alledaags soos die sonsopkoms sien en hoor hoe die Here na ons toe kom met ’n liefdeskus en die woorde: Môre, my kind; geniet hierdie stukkie hemel en weet, vandag is jy nie alleen nie, Ek is lief vir jou.
Ds Schalk Zastron, Ermelo