Lukas 14: 25-35

Soms volg ons Jesus, sonder om werklik te verstaan wat dit beteken en wat dit van ons vra om ’n ware Christen te wees. Partykeer trap ons in ’n slaggat, dat ons onsself as ware dissipels van Jesus beskou terwyl ons dit nie regtig is nie. Ja, ons kan selfs soos ware dissipels lyk, Bybel lees, bid, kerk toe kom, barmhartig wees en tog die doel mis… ’n Dissipel is ’n ware volgeling van Jesus Christus. Nie sommer net iemand wat agter Hom aanslenter nie.

Let op met wie Jesus hier praat. Lukas sê ’n menigte, met ander woorde, baie mense, het agter Jesus aangekom, en Jesus het na hierdie menigte gedraai en met hulle gepraat. Hy sê dan vir hulle wat die koste van dissipelskap is. Onthou, Hy praat nie met mense wat nie van Hom hou, of mense wat slegte dinge van Hom sê of nie in Hom wil glo nie. Nee, Hy praat met mense wat by Hom wil wees, wat Hom uit hul eie volg.

Jesus vertel hierdie gelykenisse vir hulle sodat hulle moet besef dat om dissipel te wees, gaan beteken dat jy mooi moet weet wat dit van jou gaan vra. Hulle moet bereid wees om op te offer wanneer hulle Hom wil volg. Hulle moet mooi bereken of hulle kans sien om sy volgelinge te wees.

Dit wat hulle moes leer, moet ons ook leer. Partymaal doen ons as Christene in 2019 ook die goed wat ’n Christen veronderstel is om te doen: Ons gaan kerk toe en bid en sing en lees Bybel, maar is ons werklik toegewy aan Jesus? Jesus sê dat as jy sy dissipel wil wees, moet jy aan Hom toegewy wees, bo enigiets of enigiemand anders. Niks, nie jou familie, geld, besittings, skool, werk, enige iets, kan tussen jou en Jesus staan nie!

Is jy bereid om vir Hom opofferings te maak en Hom die belangrikste in jou lewe te ag?

Ds Willem Sauer, Waterberg

af
af
Deel met behulp van
Copy link