Josua 7: 7-10

Ek dink nie Josua het hierdie moeilikheid sien kom nie! Die vorige ses hoofstukke vertel hoe goed dit met Israel gaan. Nou kom hulle te staan voor letterlik een van die kleinste en eintlik ’n geringe stadjie, naamlik Ai. Die stadjie se inwoners verneder Israel. Eintlik kom Israel se moeilikheid in die vorm van Akan. Direk vertaal beteken sy naam nogal moeilikheid. Hy het van God gesteel. God het gesê van die eerste stad wat hulle inneem mag hulle niks vir hulself vat nie. Maar Akan het. Hiervoor het God Israel gestraf.

Ons eie grootste moeilikheid kom ook meestal sonder aankondiging. Iemand vertel van ’n skoolseun wat saam met sy ouers na ’n nuwe dorp getrek het. Almal by die nuwe skool het hom gewaarsku teen Groot Jan – hy is moeilikheid. Een pouse het almal begin uitroep: Hier kom Groot Jan! Almal het verdwyn, net die nuwe outjie was te laat en was alleen in die klas. ’n Blok van ’n man het die vertrek binnegekom. Hy het sommer die lig toegestaan toe hy by die deur instap. Hy het by die nuwe seun gaan sit, wat met ’n bewerige stem gevra het: Kan ek vir jou een van my toebroodjies gee? Hy het geantwoord: Ja, ons moet net vinnig eet, want ek hoor Groot Jan is op pad! Baie keer dink ons ons moeilikheid is hier, maar eintlik is ons moeilikheid nog op pad. Dit was die geval met Josua in ons teks.

Hy gaan na God toe met die idee dat die moeilikheid eintlik God se moeilikheid is. Maar eintlik begin Josua se moeilikheid nou eers. Jy het eers regtig moeilikheid as jy in die moeilikheid is by God. God vra vir Josua hoekom hy op die grond lê. Hoekom lê jy hier en bid? Doen iets! Soms vra geloof dat ons opstaan en iets doen.

Dr Hein Delport, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link