Handelinge 1: 1-9, 14: 21-22 en 28: 23-31

Elke mens het al die een of ander tyd dié uitroep gemaak: Ek het net nie meer die krag nie. Ek is uitgeput en het nie die moed om verder te gaan nie. Nie net in ons daaglikse lewe het ons al so gevoel nie, maar dalk in die besonder ook in ons geestelike lewe. In baie opsigte lyk dit asof die kerk, die Christendom, kragteloos geword het en nie meer ’n impak maak op die wêreld en sy mense nie.

As ons weer krag in ons lewe nodig het, het Christus vir ons spesiale woorde. Net na sy opstanding en net voordat Hy opgevaar het na die hemel, het Christus geweet dat sy dissipels krag nodig het, om die werke van sy koninkryk op aarde te doen. Ons lees in Handelinge 1: 3 dat Jesus na sy dood aan sy dissipels met …baie onbetwisbare bewyse getoon het dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Daarna beveel Hy hulle om in Jerusalem te bly totdat hulle die gawe ontvang het wat God hulle belowe het, naamlik om deur die Heilige Gees gedoop te word.

Die dissipels vra in ’n stadium vir Jesus of dit nou die tyd is dat Hy die koninkryk vir Israel gaan oprig. Jesus se antwoord is dat hulle nie die tyd en omstandighede sal weet nie. In Handelinge 1: 8 bied Hy hierdie trooswoorde aan: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees … tot in die uithoeke van die wêreld.

Wanneer ons kragteloos voel en nie kans sien vir die toekoms nie, bring God self ons in beweging. Hy vra van ons geduld en toewyding om te wag totdat Hy vir ons die krag gee, om sy getuies te gaan wees.

Ds Martin Meyer, Secunda

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link