Markus 8: 27-38

Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense (Mark 8: 33, AFR2020).

Hoeveel keer in ons lewe bedink ek en jy eerder die dinge van mense en nie die dinge van God nie? Hoeveel keer is ek en jy net soos Petrus, en probeer ons ons eie wil vir God voorskryf? Hoeveel keer hou ons duim vas en hoop en bid ons dat God se wil vir ons lewens op die een of ander manier by ons eie wil en idee en beplanning vir ons lewens sal inpas?

Hier, in vandag se teks, lees ons van ’n omkeerpunt in Jesus se bediening, ’n draaipunt vir die wêreld. Jesus bevestig hierdie omkeerpunt vir elkeen van ons. Jesus is reguit op pad kruis toe, reguit op pad Jerusalem toe, reguit op pad na die wil van God vir die wêreld toe. Met elke tree wat Jesus na die kruis toe loop, bevestig en verseker Hy vir die dissipels, vir die gelowiges, en vir my en jou vandag, dat God se wil bo alles vir die wêreld sal geskied.

Jesus sê hier in Markus 8 vir Petrus dat daar niemand of niks is wat ooit tussen ons en die wil van God sal kom nie. Met elke tree na die kruis toe sê Jesus vir Petrus, en vir my en jou, dat God se wil sal geskied, ongeag hoeveel keer ons eerder verlang dat ons eie planne of wil moet geskied.

Mag ons agter Jesus aan loop, en nie soos Petrus voor Jesus staan en ons eie gedagtes en planne en ons eie wil laat probeer geskied nie. Paulus skryf ook in Kolossense 3: 1 dat ons eerder die dinge daarbo moet bedink, en nie die dinge hier op aarde nie. Mag ons uitgaan in die wêreld en die dinge van God bedink. Mag ons fokus op die koninkryk van God.

Ds André Steinmann, Piet Potgieter

Share via
Copy link
Powered by Social Snap