Johannes 10: 1-18

’n Lewe in oorvloed voel partymaal vir ons soos iets wat net in films gebeur. ’n Sinvolle, betekenisvolle en gelukkige lewe voel buite ons bereik. Ons voer eerder ’n oorlewingstryd – een waar ons deur nog ’n dag worstel. Nog ’n week. Nog ’n lewensfase. Ons voel onvervuld en nie heel nie.

In die teksgedeelte gebruik Jesus ‘n aktuele beeld, die beeld van ’n goeie herder, om te vertel wat sy doel op aarde is. Hul lewe in oorvloed is om in ’n besondere verhouding met Hom te leef. Dit is soos met ’n Goeie Herder wat sy skape op die naam ken, omdat Hy vir elkeen lief is en hulle aan Hom behoort. ’n Goeie Herder lei sy skape uit na die weiveld, en hulle volg Hom omdat hulle sy stem ken vertrou. ’n Goeie Herder beskerm sy skape en vlug nie wanneer daar gevaar is nie. Die diewe en wilde diere moet eers deur die ingang, verby die Herder gaan, om die skape te steel of dood te maak. 

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed (vers 10). Jesus moes sy lewe aflê sodat sy kinders kan lewe as sy kudde, selfs wanneer hulle sterf, omdat die Herder nie net gesterf het nie, maar ook weer sy lewe opgeneem het soos ons lees in vers 17. Hy het dit ook gedoen sodat sy skape die ewige lewe kan ontvang, die hoogste vorm van lewe – ja, lewe in oorvloed. Hierdie oorvloedige lewe is nie net ’n lewe wat ons gaan ontvang eendag wanneer ons by God is nie, maar deur Jesus het hierdie lewe reeds aangebreek. Hier en nou wil Hy, die Goeie Herder, vir ons ’n lewe in oorvloed gee. Is dit vir jou vervullend genoeg om in so ’n verhouding met Christus en ander te leef?

My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie.

Daar waar dit groen in oorvloed is, daar mag ek wei.

Hy sorg vir my, laat my nooit in die steek nie.

(Psalm 23: 1)

Ds Elmien Shaw, Swartkop

af
af
Deel met behulp van
Copy link