Lukas 13: 16-19
In sy boek Leef lig verken Jaco Strydom vyf gewoontes van die vroeë kerk. As jy geestelik wil groei, het jy beter gewoontes nodig, nie beter uitsonderings nie, meen hy. Maar oor die algemeen het ons nie hoë waardering vir geloofsgewoontes nie.
’n Oom verduidelik een aand tydens huisbesoek aan my dat geloofshandelinge wat uit gewoonte beoefen word, harteloos en sonder spontaniteit is. Wat help dit om uit gewoonte Bybel te lees en te bid, of erediens by te woon, as jy daarna nie eens kan onthou wat jy gelees het nie! Dit mag wel waar wees. Gelukkig is hy wat die Woord van God hoor, en dit ook doen. Maar is ’n saak gedoem bloot omdat dit uit gewoonte gedoen word? Die feit van die saak is: Per definisie is dit wat jy die meeste van die tyd doen, immers jou gewoonte! Of dit jou gewoonte is om kerk toe te gaan (soos Jesus gedoen het), of jou gewoonte om die samekomste van die gemeente te vermy.
Ek vra die oom toe uit na sy eetgewoontes. Sy vrou maak lekker kos, spog hy. En op Sondae doen sy spesiale moeite. Maar hy kon nie presies die spyskaarte van die vorige klompie Sondae onthou nie. Tog het die gewoonte om goeie kos te eet, hom gesond en aan die lewe gehou… al het hy min detail daarvan onthou.
Dis waar dat ek min van die preke kan onthou wat my as kind geestelik gevoed het. Maar deur die werking van die Gees het dit my geloof laat groei. Tot so ’n mate dat ek besluit het om my lewe daaraan te wy om diensbaar in sy koninkryk te wees… Jou gewoontes, die dinge wat jy die meeste van die tyd doen, bou jou identiteit en karakter. Ons moet in die gewoonte kom om Jesus na te volg. Geloof word geleef, nie bedink en bepraat nie. Die geestelike pad word gestap… in Jesus se spore.
Wat is jou geloofsgewoontes? Probeer jy om die meeste van die tyd in sy voetspore te loop? Of verdwaal jy net soms by uitsondering agter Jesus aan?
Gebed
Onse Hemelse Vader, help my om U getrou te volg. Amen.
Ds Stephen de Beer, Noordwestelike Pretoria