Filippense 2: 5-11

Ons leef in ’n gesofistikeerde en komplekse samelewing. Selfs hier aan die suidpunt van Afrika word ons oorweldig met nuwe tegnologie en inligting. Kennis is nie iets wat moeilik bekom word nie en almal is ’n kenner op elke gebied. Hierdie is nie ’n poging om die waarde van hierdie tegnologie of kennis af te maak nie. Maar dit is belangrik om in ’n samelewing wat volgeprop is met inligting en selfversekerdheid te vra: Hoe behoort gelowiges hulself te gedra in so ’n samelewing?

Ons is duidelik bewus daarvan dat God ’n baie spesifieke verwagting van ons het. Hierdie verwagting vra dat ons mooi moet besin oor die gesindheid wat gelowiges behoort te hê. Paulus gee ons die antwoord hiervoor. Paulus skryf in Filippense ’n pragtige Christus-lied. Hierdie lied vertel dat Jesus, wat in die gestalte van God was, sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou het as iets waaraan Hy moes vasklem nie, maar Homself verneder het. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is kenosis. Dit beteken letterlik om leeg te maak. Amper soos ’n kruik vol water wat uitgegiet word en leeg staan.

Die gedig gaan verder deur te verduidelik dat dit juis hierdie leegmaak was wat die gevolg gehad het dat Jesus die Here is, tot eer van God die Vader. Hierdie stuk poësie verteenwoordig ’n diepgewortelde gesindheid van leegmaking. In ’n samelewing wat geen tekort het nie en met mense wat alles weet, is dit slegs hierdie gesindheid wat gelowiges moet uitstraal. Hierdie gesindheid beteken nie dat jy sonder kennis moet leef nie, maar dit is ’n gesindheid van nederigheid waarin ons besef dat ons ons nie hoogmoedig kan hou nie. Ons moet altyd bereid wees om eers te leer, om eers te luister en om ontvanklik te wees.

As ons die beker van ons selfversekerdheid kan leegmaak, maak God ons vol met sy glorie.

Ds Juan de Beer, Parys

Share via
Copy link
Powered by Social Snap