Psalm 136; 1 Timoteus 1: 12-20 

Die meeste van ons se Kersbome het plastiektakke en blare wat volgende jaar nog dieselfde gaan lyk. ’n Regte, egte kersboom het ook dennenaalde of blare wat die hele jaar groen bly. Die immergroen blare van ’n denneboom herinner ons aan die onveranderlike liefde, die immergroen liefde van God.

Psalm 136 getuig van God se oneindige liefde. Ons kan aan hierdie liefde vashou en vertrou dat God nooit sy rug op ons sal draai of ons sal agterlaat nie. Aan God se liefde is daar geen einde nie.

Hierdie woorde het groot krag gekry die oomblik toe Jesus Christus gebore is. Liefde het neergedaal aarde toe en onder ons kom woon. God het sy groot liefde aan ons bewys deur ons Verlosser aarde toe te stuur. Uit ons eie kan ons niks vermag nie. Ons kan nie ons eie redding verseker nie. Net Jesus kan dit doen. Hy is ons Voorspraak by die Vader. Ons is gered uit genade, nie uit verdienste nie. Kerstyd herinner ons aan twee belangrike dinge: Ons het ’n Verlosser nodig; en Jesus Christus is die bewys dat daar geen einde aan God se liefde is nie.

God se liefde is ewig en onveranderd en kom haal ons op elke plek waar ons al afgedwaal het. Sy liefde laat ons nie onveranderd nie. Dit roep ons op om te getuig van sy liefde en sy versoening.

Gesang 329

Ds Maritza Oosthuizen, Belfast/Waterval Boven

af
af
Copy link