Hosea 11: 1-9 (AFR1983)

God se almag maak dat die gedagte aan God se toorn skrikwekkend is. Tog, God is nie ’n mens nie en sy toorn is nie soos ’n mens se woede nie. Dit is nie ’n emosie wat dreig om van Hom beheer te neem nie. God se toorn is ’n aksie met ’n doel – dit lei tot ’n geleentheid om sy liefde te wys. As God se toorn ontvlam, is dit berekend, is dit ’n doelbewuste wilsbesluit – toorn vanuit sy liefde, en daarom toorn wat daarop gemik is om verandering te bring, verbetering te bring, redding te bring.

In die Ou Testament sien ons telkens dat God sy kinders gestraf het, of gedreig het om hulle te straf, met die doel om hul liefde terug te wen. Dit was nooit om wraak te neem, of omdat straf straf is nie. Met ander woorde, sy toorn staan nie los van sy liefde nie. Ons weet mos, ouers se liefde vir hul kinders werk ook so.

In hierdie Kerstyd herdenk ons met die geboorte van Jesus hoe God se liefde sy toorn op die sterkste moontlike wyse oorspoel het. Vir elkeen wat saam met die engele, die herders en die wyse manne voor daardie Kindjie buig, bly slegs die belofte van God se liefde, genade en bystand. Nie die swaard van sy oordeel nie, want in daardie Kindjie het Hy die verandering finaal gebring – ons is vrygespreek van sy oordeel en verseker van sy genadige liefde, van ons verlossing en van ons lewe as sy kinders.

Deur die Menswording van daardie Kindjie, het God finaal bevestig, dit wat hier aan Juda en Efraim belowe word, woorde wat ons aan die hart raak: Hoe kan Ek jou prysgee, my kind? Hoe kan Ek jou laat vaar? … Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Nou kan ons byvoeg:  Daarom gee Ek my Seun om julle weer my kinders te maak en vir julle ’n Vader en Ouer te wees!

Dr Chris le Roux, Stellenbosch/Worcester

 

Share via
Copy link
Powered by Social Snap