Matteus 7: 12-13

Wanneer ons lees dat Jesus sê die pad wat na die lewe lei is smal en die poort waardeur jy moet gaan is nou, verstaan ons dikwels dat dit beteken dat min mense eendag verlos sal word. Die weg na die lewe, na die hemel, is immers smal en die poort is nou. Min maak dit.

Toe ek ’n kind was, het ek hierdie woorde van Jesus so verstaan. Telkens, wanneer ek oor my eie lewe gedink het, het ek geglo dat ’n lewe by God eendag nie vir my beskore sal wees nie. Die pad na God is smal, en die poort is nou. My sonde is eenvoudig te veel, het ek altyd gedink. My lewe was eerder ’n lewe van die breë pad van verderf, die pad wat na ’n wye poort lei waardeur almal soos ek sal ingaan.

Jesus praat egter nie hier van verlossing nie. Nee, Hy praat hier van sy koninkryk hier en nou op moeder aarde. Wat is die nou poort? Lees weer ons teks van gister, Matteus 7: 12. Die nou poort is die goue reël: Wat jy wil hê ander aan jou moet doen, moet jy aan ander doen. Anders gesê: Die smal pad en die nou poort is die liefde, ’n pad wat baie min loop en die poort waardeur baie min gaan.

So baie van die verwoesting van ander, die pyn wat ander beleef, en die moeilikhede in die lewe, is die gevolg van die keuse wat ons maak om die breë pad te loop. Die breë pad waarop wat ek wil hê die belangrikste is, ’n pad waarop ander nie tel nie, en ander moet pasop dat hulle nie raakgery word nie. ’n Pad van die vernietiging van ander, op so baie maniere. Daarteenoor skep die nou pad van liefde lewe vir ander, en lewe vir die een wat kies om die nou poort in te gaan. Sonder bitterheid teenoor ander of die beoordeling van ander. Min, sê Jesus, gaan deur hierdie poort.

Prof Ernest van Eck, Universiteit van Pretoria

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link