Galasiërs 5: 13-26

Die lewe is deesdae so vol dinge dat ons verplig word om daagliks te kies wat vir ons belangrik is en wat nie belangrik is nie. Vir baie mense word God en sy kerk as van die minder belangrike dinge beskou. Omdat die kerk boonop uit onvolmaakte mense bestaan, kan dit ook in die kerk gaan soos met ’n trop wilde honde. Daar word na mekaar gebyt en sommige word selfs verskeur, en die gevaar dat iemand heeltemal verslind word, is ’n werklikheid! Gaan lees maar gerus weer die lys sondige praktyke waarteen Paulus waarsku. Ek is oortuig dat die meeste van ons onskuldig kan pleit op ’n klomp van hierdie aanklagte, maar bitter min van ons kan met eerlikheid sê ek het nog nooit vyandskap, haat, rusie, verdeeldheid en jaloesie in die kerk beleef nie. Die saamwees van ’n groep mense waar sulke dinge gebeur, sal om verstaanbare redes vir baie mense nie belangrik genoeg wees om tyd aan te bestee nie.

Deur sy Seun na ons wêreld te stuur, het God getoon dat Hy ons nuut wil maak om ’n seën te wees vir Hom en vir mekaar. Hy roep ons om tot sy eer te lewe deur mekaar in liefde te dien. God verwag nie van ons om dit op ons eie reg te kry nie! Nee, Hy het sy Gees gestuur om ons deur sy Woord te leer en te lei. Deur die werking van die Heilige Gees stel Hy ons in staat om vrugte te dra wat tot sy eer sal strek, vrugte soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Hoe sal jy voel oor die saamwees van mense wie se leefwyse hierdie eienskappe dra? Sal ’n mens ooit kan besluit dat so ’n saamwees nie belangrik genoeg is om tyd aan te bestee nie?

Gebed

Here, mag die werking van u Gees vrug dra in ons lewe. Dankie dat ons deel kan wees van iets so kosbaar. Amen.

Ds Stephan Botha, Rustenburg-Suid

Share via
Copy link
Powered by Social Snap