Psalm 27
As julle bygelowig of bang is, moenie wees nie. Dit is gewoon onnodig en ’n vermorsing van energie, aldus die digter van Psalm 27. Die Here is my lig en my redding – vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?
Dawid is nie bygelowig nie. Waar kom bygelowigheid vandaan? Dit word uit vrees gebore! Dit ontstaan omdat mense vir sekere dinge bang is, dan begin hulle dinge glo wat irrasioneel is. Wanneer Dawid hier vertel dat niks op aarde hom bang maak nie, is dit omdat die Here vir hom die lig is wat die donker van onsekerheid wegvat. Hy getuig dat die Here hom wegsteek, optel en veilig hou. Hy bly afhanklik van die Here: Here, leer my u pad, lei my op ’n gelyk pad (vers 11, AFR2020).
Daar is baie dinge wat ons bang maak. Duisternis en donkerte het verskeie skakerings vir ons in ons land. Baie dinge gebeur en dit raak ons lewens diep. Soms voel dit asof die bodem van ons lewe as’t ware uitval. Dit kan so erg raak dat ons ons sekuriteit en ons redding op ander plekke begin soek. So ontwikkel allerlei bygelowe of gewoontes om jou te help om jou vrees te oorbrug en jou krisis te hanteer. Die gevaar is net dat ’n mens so mondig word en dat dit daartoe aanleiding gee dat God oorbodig raak, of irrelevant in ons lewe. Die kosbare wete waaraan ons in Epifanie herinner word, is dat God ons nooit alleen laat nie, wat nog in die duisternis! Gelowig of bygelowig? Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!
As ek nie lewe in geloof, word al my lewensmoed gedoof.
Omdat God seën en lei en leer, wil ek Hom reeds op aarde eer.
Voel ek opnuut ontstig, sal ek my hart betig:
alleen God heers en rig, net Hy kan gee of neem;
wag op die Here en die lig!
(Psalm 27: 6, Lina Spies, Liedboek van die Kerk)
Ds Kathleen Smith, Kaapstad
