Johannes 14: 1-6

Wat sal jy maak as die dood by jou voordeur instap – tot binne-in jou lewe – en spesiaal vir jou kom kuier? Ja, dalk moet jy eerlik vir jouself die antwoord op die volgende vraag gee: Vrees jy die dood meer as enigiets anders? Wat sou jy in jou lewe wou doen of verander as jy die voorreg of las gehad het om te weet dat die einde van jou lewe op aarde baie naby is?

Dit is belangrik vir ons om te weet dat hierdie woorde radikaal en aangrypend vir die eerste-eeuse hoorders was. Jesus belowe hier nie iets denkbeeldig nie. Hy belowe dat Hy werklik gaan terugkeer uit die dood en dat Hy werklik sy volgelinge sal kom red van die dood en die graf. Die ortodokse Jode en godsdienstige leiers het geleer daar bestaan nie so ’n ydele belofte soos dié wat Jesus hier maak nie. Vir hulle was die graf ’n tragiese eenrigtingreis na die doderyk, wat bekendgestaan het as die Sheol. Daar was geen onvlugting nie, geen hoop nie, geen moontlikheid vir parool dat jy die dood sal kan vryspring nie.

Die meeste van die geestelike leiers in Jesus se tyd het geen taal geken wat die opstanding uit die dood sou kon beskryf nie. Daar het nie eens ’n gedagte aan die opstanding bestaan nie. Daar was selfs verdeeldheid onder die groot groepe. Die Sadduseërs het ’n opstanding geheel en al ontken – daar bestaan nie so iets nie. Die Fariseërs het darem so ver gekom om aan ’n geestelike opstanding te glo. En nou kom Jesus hierdie wêreld van die mens as mens in. Hy kom hierdie broeiplek van hartseer en sonde en dood binne, en Hy boor ’n varswaterput. Hy het nie net ’n lewe na die dood belowe nie, maar ’n beter lewe in die hemel. En Jesus belowe: As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan (self) om vir julle plek gereed te maak nie (Joh 14: 2).

Ds Jimmy Manders, Witfontein

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link