Psalm 116

Ons het grootgeword met hierdie Psalm wat baie maal by die Nagmaaltafel gesing is. Hierdie Psalm vertel van God wat lief is vir sy mense. Die Psalmdigter vertel dat toe hy in doodsgevaar was, hy na die Here geroep het en dat die Here sy hulpgeroep gehoor, sy gebed verhoor en hom gered het. Ons lees in vers 6: Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. Die Nuwe Direkte Vertaling sê: Die Here beskerm eenvoudiges…

Ja, hy was magteloos, maar die Here het hom gered – al was hy ’n hulpelose, ’n eenvoudige. Die rede: Die Here red dié wat Hom dien.

Soms raak die lewe vir ons te veel en wil ons sommer moed opgee. Dalk beleef jy dat niemand van jou en jou probleme weet en jou sal help nie. Ons lees hier dat die Here ons selfs in ons donkerste oomblik raaksien en help.

Niemand is te nietig vir die Here om hulle te help en by te staan nie. Niemand is so gering dat Hy nie sy liefde en genade aan hulle sal bewys nie. In die Hebreeuse teks lees ons dat die Psalmdigter maar net ’n dienskneg is, gebore uit ’n diensmaagd, en tog sien God hom raak, want God red dié vir wie Hy lief is, ongeag wie hulle is. Toe die digter gedink het dit is klaar met hom, het God sy hulpgeroep gehoor en hom gered. Hierdie wete maak dat hy nie anders kan nie as om die liefde van God te besing. Hy wil oral waar hy gaan die grootheid besing van God wat aan hom gedink het, wat sy gebed verhoor het.

God het jou ook so lief. Jy is nie nietig in sy oë nie. Hy het jou so lief! Wanneer die las van die lewe te veel raak, is Hy daar vir jou. Wanneer jy in jou uur van nood tot Hom bid, is Hy daar. Daarom moet ook ons nooit ophou nie om sy lof te besing, om aan Hom die eer te gee.

Ds Willem Sauer, Waterberg

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link