Deuteronomium 18: 9‑22; Jeremia 1: 4‑8, 20: 7‑9
Die grootste wonder van die kerk is dat God mense gebruik om sy werk te doen. God het natuurlik nie nodig gehad om van mense gebruik te maak nie. Hy kon self regkom. Maar in sy groot liefde het Hy gekies om van mense gebruik te maak. Die feit dat die Here ’n mens roep om hom te gebruik in sy diens, kan ook een van die grootste versoekings wees waarvoor ’n mensekind te staan kan kom. Die versoeking is dan dat die mens in die kalklig begin staan en dat God in sy skaduwee moet gaan staan. Die briljante mens met al sy bekwaamhede staan dan op die voorgrond sodat jy God naderhand glad nie meer kan raaksien nie.
Dit is daarom veral op so ’n dag nodig dat ’n mensekind op sy knieë sal staan en soos Paulus sal vra: Here, wat wil U hê dat ek moet doen? In Deuteronomium 18 kry ons ’n aangrypende gedeelte waarin God se plan met ’n mensekind in sy kerk beskryf word as profetewerk. ’n Profeet is iemand wat altyd na God heenwys. ’n Profeet is daar om deur God in diens geneem te word.
Mag jy saam met my dankbaar in diens wees van die Lewende God. Mag geen kerklike politiek, tradisie, kultuur of menslike oortuiging jou verwyder nie van God se openbaring aan jou as profeet. Mag jy saam met my glo dat God die Waarmaker van sy woord is. Dat ons aan sy gesag onderdanig sal wees. Dat die Heilige Gees jou voorspraak sal wees, dat Hy aan diens sal wees van jou hart en jou mond. Mag jy saam met my te alle tye besef dat die grootste wonder van die kerk is dat God mense soos ek en jy gebruik om sy werk te doen.
Gebed
Abba Vader, wees ons genadig. Wees met ons in ons geringheid waar ons probeer om na u beeld te leef. Here, al kry ons dit nie altyd reg nie, weet ons u genade bedek ons foute en ons tekorte. Te min bely ons ons sonde, noem ons dit op die naam. Ja, Here, ons is te skaam en gans te trots om dit te doen. Maak dit vir ons makliker om u aangesig te soek, u vergifnis op te spoor, sodat ons minder na die varkhok terugkeer en meer na u heerlikheid soek. In Jesus Naam. Amen.
Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand
