Matteus 5: 7; Johannes 4: 1-15

Jesus stap van Judea na Galilea. Van die bodorpers na die onderdorpers. Op sy pad moet Hy ook deur die plakkerskamp loop. Die plek waar die Samaritane woon. Uit hierdie gebied moet jy so gou moontlik kom. Dis nie ’n plek waar jy jouself wil bevind nie.

Jesus kom by ’n plek met die naam Sigar. Dis twaalfuur die middag. Dis warm. Hy is moeg en dors. Dan kom daar ’n vrou aan wat water kom haal. Jesus het nie iets om water mee te skep nie, en die put is diep. Hy vra haar vir ’n bietjie water. Jesus se optrede skree teen die reëls van die samelewing. Die wet verbied Joodse mans immers om in die openbaar met vroue te praat. Jy durf nie eens met jou eie vrou in die openbaar praat nie, wat nog te sê met hierdie laeklastipe wat self moet kom water haal en boonop ’n Samaritaan is. Wanneer hierdie vrou haarself ’n Samaritaan noem, sê sy eintlik daarmee dat sy iemand is wat nie werd is om aangespreek te word nie. Jesus ken ook haar geskiedenis. Sy het al vyf mans gehad. Moenie oordeel en dink dis ’n losbandige vrou nie! Gegewe al die wette oor huwelik en egskeiding, vroue se afhanklikheid van mans en hul beperkte insette met die beëindiging van ’n huwelik, is daar waarskynlik van haar geskei of sy het die afsterwe van ’n huweliksmaat beleef. Sy het al meermale seergekry. Sy ken weerloosheid en verwerping.

Tog sê Jesus vir hierdie vrou dat sy liefde en sy genade ook vir haar dáár is. Sy kan deel in die Lewende Water. By God is daar vir haar ’n plekkie. Hierdie onbekende Samaritaanse vrou hou nie die nuus vir haarself nie. Sy gaan terug na haar dorpsmense toe en vertel vir hulle dat Jesus die Lewende Water is. Hy het aan haar barmhartigheid bewys.

Gelukkig is die barmhartiges, diegene wat bereid is om die Lewende Water te ontvang en daardeur deurdrenk te word – na binne en borrelend na buite.

Dr Sanrie de Beer, Philadelphia

af
af
Deel met behulp van
Copy link