Psalm 121

Ons lewens word gekenmerk deur ’n reis van een bestemming na ’n ander. Uiteindelik ’n reis in hierdie wêreld na ’n nuwe eindbestemming – ’n nuwe Jerusalem. Hierdie reis is vol gevare, bedreigings, versoekings en verleidings. ’n Reis waarop die wêreld baie mooi en aanloklike antwoorde probeer gee. ’n Reis waar daar soveel gode is met die uitnodiging om op hulle te vertrou. Die wêreld beloof mooi dinge, maar lewer min. Kyk op en weet jou hulp kom nie van die aantreklike gode op die berge wat voorspoed beloof nie. Jou hulp kom van dié Here wat die hemel, die aarde en die berge gemaak het.

Rig veral jou oë op een koppie. ’n Koppie met drie kruise, en veral die middelste kruis. Daardie kruis is leeg! ’n Leë kruis wat sê, die Een wat aan dié kruis gehang het, leef by ons, oor ons, om ons, voor ons, in ons.

Die skrywer van die Hebreërbrief praat ook van dié wedloop of reis. In Hebreërs 12: 1-3 skryf hy: Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

In die reis wat voorlê, kyk op na die berge, en weet ons hulp kom nie van enige ander oord nie, maar van die lewende Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Die Here wat die Begin en die Voleinder is van ons geloof. As ons dit doen, sal ons nie moeg word of uitsak in ons lewensreis nie.

Ds Kobus Celliers, Brits

Share via
Copy link
Powered by Social Snap