Numeri 21: 4-9
Wanneer ons na die Israeliete se verhouding met die Here kyk, frustreer dit ons soms. Met die bril waardeur ons kyk, lyk dit of hulle net nie wil leer nie, en hulle bly die heeltyd hardkoppig. Ons is dan geneig om nie die geloofsgroei en versterking van hul verhouding met die Here raak te lees nie.
Hier het ons te make met nog ’n insident waar die volk se ongeduld, hul frustrasie met die woestyn, en die spanning van hul onsekerheid hulle onderkry. Tog het die situasie ’n bietjie anders verloop. Met die slange wat die volk tref, het hulle self tot inkeer gekom en besef dat hul ongeduld hulle pootjie, en so bely hulle aan Moses hul skuld, sodat hy tot die Here om vergifnis kan bid.
Die volk se versoek was dat God die slange van hulle sal wegneem, maar die Here hanteer dit anders as wat hulle gevra het. In plaas daarvan om die slange of die gevaar weg te neem, gee die Here weer eens vir hulle ’n reddingsboei. Deur ’n koperslang te maak en dit op ’n paal te hys, kan elkeen wat daarna kyk, genees word van die slang wat hulle gepik het. Dit beteken God het juis hul grootste vrees in daardie stadium gebruik, dit omgeswaai en gewys dat God groter as hul grootste vrees is. Maar dit verg iets baie waardevol, en dit is geloof en vertroue in God. Kyk in opdrag van die Here, deur geloof en vertroue in die Here, na jou grootste vrees en sien hoe God dit omskep in hoop en lewe.
Wat maak ons vandag met hierdie teks? Ons het steeds vrese, uitdagings en bekommernisse. Baie daarvan mag dalk ook deur ons ongeduld oor ons pad gebring word, maar in Christus het ons vandag presies dieselfde troos en hoop. Die gevaar is nie noodwendig weggevat nie, maar in Christus word gevare omskep in hoop en nuwe lewe. Mag ons deur die krag van die Gees braaf genoeg wees om in vertroue die gevare van die wêreld in die oë te kyk, met die wete dat God ook dít vir ons omskep in hoop en nuwe lewe.
Ds Schalk Zastron, Ermelo
