1 Konings 21: 1-4

Wanneer laas was jy teleurgesteld in die uitkoms van iets waarop jy gehoop het? Wanneer laas het ’n saak anders uitgewerk as wat jy beplan het? Dalk lank terug, of, meer waarskynlik, sommer onlangs? Hoe het jy dit hanteer? Was jy kwaad en bedruk? Het jy op jou bed gaan lê met jou gesig na die muur toe en jouself jammer gekry? Het jy opgehou eet, en knorrig jou lot bekla by enigeen wat bereid was om te luister?

Dit is presies hoe koning Agab van Samaria teleurstelling hanteer het in 1 Konings 21. Nabot se wingerd het aan Agab se eiendom gegrens, en Agab wou dit baie graag hê. Maar die wingerd was erfgrond en Nabot wou niks weet van verkoop nie. En Agab wys vir ons hoe om teleurstelling nié te hanteer nie, veral waar dit oor aardse goed gaan.

Teleurstelling is die dun kant van die wig – en dit lyk onskadelik. Maar hanteer dit verkeerd, laat dit broei en broei, en die wig word ’n bietjie dieper ingedryf en teleurstelling word moedeloosheid. En as jy dit nie op hierdie punt hanteer nie, gaan moedeloosheid maklik oor tot bitterheid. En van hier af dryf die wig vinnig dieper en dieper in en neem dit jou hele lewe oor, en bitterheid lei tot swartgalligheid en neerslagtigheid. En as ons nie versigtig is nie, lei dit alles uiteindelik tot desperaatheid en lewensmoegheid, of selfs tot haat, wraakgedagtes en selfvernietiging.

Nee! Moenie dat teleurstelling dit aan jou doen nie! Eenmaal het die digter van Psalm 73 se teleurstelling hom ook veronreg laat voel, en hy het naderhand verbitterd geraak. Hy skryf hoe dom hy was en sonder insig. Tog het God steeds sy hand gevat, en dit het alles vir hom verander – nie sy omstandighede nie, maar sy hart.

Teleurstelling is deel van die lewe. Vat dit op die ken en beweeg eenvoudig aan. Maak soos Habakuk toe hy in die aangesig van teleurstelling op teleurstelling uitgeroep het: Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder!

Dr Johan van Staden, Sionspoort

af
af
Deel met behulp van
Copy link