Efesiërs 3: 14-21
Leef ons van binne na buite of van buite na binne? Meesal bepaal wat buite gebeur hoe ons binne voel. As dit goed gaan, voel ons lekker. As dit sleg gaan, voel ons bang, ongelukkig, gefrustreerd of gestres.
Wat sou die verskil wees as ons andersom lewe – van binne na buite? Paulus bid nie dat dit altyd met gelowiges goed sal gaan nie. Hy bid vir die krag om innerlik sterk te wees. Dieselfde krag waarmee God Christus opgewek het uit die dood, is die krag waarmee God gelowiges innerlik sterk maak. Christus in die hart is ’n formidabele bron van krag.
Andersom lewe, van binne na buite, maak dat ’n mens nie uitgelewer is aan wat van buite af frustrasie of angs veroorsaak nie. Die binne-krag bewaar die binne-gevoel: sterk, rustig, vol vrede. So ’n binne-na-buite-lewe kom nie vir mense natuurlik nie. Dit is net moontlik vir wie stewig geanker bly in God. As daardie band losraak of verdwyn, neem ons natuurlike menswees oor.
Van buite af kom van alles en nog wat. Dit is die lewe. Die vraag is wat ons daarmee maak. Is dit ’n hart vol van Christus wat ons motivering en lewensrigting, gevoel en maniere van doen bepaal? Want hoe dit met die hart gaan, so gaan dit met die mens. Met Christus in die hart, word liefde die kragbron wat gewone menslike reaksies soos selfsug en angs verdryf. Liefde word die lewenskrag van ons gees en lewe. In Die broers Karamazov sê die Russiese skrywer Dostojewski: Hoe meer ’n mens in die liefde groei, hoe sekerder word jy van God se bestaan.
Dit word ’n sirkel: Met Christus in die hart, is die liefde in jou. Deur die liefde word jy al hoe sekerder van God se nabyheid. Deur lief te hê, leer jy steeds meer van God se liefde verstaan. Hoe lank en breed en hoog en diep dit is. Hoe onbegryplik groot. Hoe niks en niemand dit van jou kan wegvat nie.
Prof Yolanda Dreyer, Universiteit van Pretoria