1 Timoteus 2: 1-7

Gebed is ’n kragtige vorm van gesprek. Dit is die wyse waarop ons met God in gesprek tree. Deur gebed lê ons ons hart voor die Here neer. Gebed is nóg ’n wyse waarop ons met God verbind word.

Gebed is ’n belangrike tema wat deur Paulus behartig word in 1 Timoteus 2: 1-7. Hierdie teks het ’n universele tema, want dit bevestig dat dit God se wil is dat almal gered moet word. Elke persoon moet hom of haar rig op die waarheid en God in hul harte aanneem. God verlos almal en almal kry deel aan sy verlossing. Die volgende aspek is om in gebed te tree met God.

Die feit dat Christus Homself prysgegee het om ons van ons sondes te verlos, wys dat ons kinders van God is en in ’n verhouding met God staan – ’n verhouding van ’n Ouer met ’n kind. Verder tree Jesus vir ons as Middelaar by God op. Dit beteken dat Jesus die tussenganger is tussen ons en God – Hy spreek namens ons by God. Hierin blyk God en Jesus se liefde vir die mensdom duidelik. Daarom is dit belangrik om op ’n konstante basis met God in gebed te tree. Gebed bring vrede in die gelowige se hart. Dit is die wyse waarop ons getuig dat God in die verlede voorsien het en dat ons glo dat God weer in die toekoms sal voorsien. Gebed bied die krag van hoop.

Om in gesprek met God te tree, beteken nie dat ons net vir onsself bid nie, ons moet vir alle ander mense ook bid. Om vir ander mense te bid, is ’n vorm van liefde wat ons uitleef. Ons moet vir ander mense bid sodat God met hulle sal wees en hulle sal bemagtig in hul omstandighede. Ons kan op verskeie wyses en in verskeie vorme bid; dit is belangrik dat ons ander mense aan God opdra. Só leef ons Jesus se liefde teenoor mekaar uit.

Prop Hanri Reichel, Beroepafwagtend

Share via
Copy link
Powered by Social Snap