Matteus 5: 5

Wanneer ons die woord sagmoedig opsoek, is die verduideliking kort en kragtig – saggeaard. Dadelik kom daar ’n prentjie in ons gedagtes op van hoe iemand lyk wat saggeaard is. Ons assosieer sagmoedigheid met ruggraatloosheid, met iemand wat nie vir sy standpunt kan opstaan nie. Ons kan vir so iemand lief wees, maar so op ’n jammerkrymanier. Sagmoedigheid is nie juis ’n eienskap waarna ons smag in die wêreld waarin ons leef nie.

Wat sagmoedig in werklikheid beteken, is baie ver verwyder van swak en willoos. Die eerste betekenis van hierdie woord sagmoedig in die oorspronklike wêreld van die Nuwe Testament, is van diere wat wild was maar nou getem is en onder beheer gebring is. Dink maar hier aan diere soos perde. Thomas Merton sê: Sagmoedigheid is nie swakheid nie, maar krag wat onder leisels gehou word. Dit beteken dat ons ons lewe onder die beheer van die Heilige Gees laat staan. 

Ons sien ware sagmoedigheid die heel beste in Jesus self. Sy vertroue op sy Vader het Hom juis in staat gestel om met deernis, moed en selfopoffering op te tree. Selfs in die moeilikste omstandighede. Sagmoedigheid verdra beledigings. Dit kap nie onbeheers terug nie. Dit dink voordat dit praat of handel. Dit loop op die spoor van God se wil. Geen wonder nie dat Jesus die sagmoediges geseënd noem. Hulle besit ’n vermoë wat baie sterk mense, en harde mense, hulle beny: groot krag wat onder beheer is. Onder beheer van die Heilige Gees!

Julle is die uitverkore volk van God (met ander woorde, mense onder beheer van God se Gees). Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe (Kol 3: 12-13).

Dis die kern. Ons is sagmoedig, ons is geduldig en ons kan vergewe. Want so is ons God.

Ds Lisa-Mari Prinsloo, Sasolburg-Suid

af
af
Deel met behulp van
Copy link