Hebreërs 13: 15-16

Ons moet maar net glo! Dit is al die afgelope 500 jaar die Kerk se antwoord op die vraag: Hoe kan ek gered word? Daar is ’n offer gebring, ’n offer wat vir my en jou redding moontlik gemaak het. Ons skuld is betaal deur Jesus wat aan die kruis gesterf het. Ons is vrygekoop en is reeds met God versoen.

Jy kan juig oor die wonder dat Christus vir sondaarmense gesterf het, ons skuld betaal het sonder dat ons dit verdien. Ons jubel daaroor dat ons gered is. Maar dit beteken nie ons moet nou niks doen nie. Geloof kos inderdaad iets, geloof eis offers. Nie soenoffers of sondeoffers nie, maar lofoffers en dankoffers. Hiermee vertel ons van ons dankbaarheid. Ons wil lof aan die Here  bring. Ons wil daarmee erken dat ons aan Hom behoort en deur Hom gered is.

Ons doen dit deur oor God te praat. Ons doen dit ook deur met God te praat. Ons sing ook saam. Met ons sang tree ons in ontmoeting met God. Ons aanbid en vereer Hom. Psalm 22: 4 sê God woon waar die lofsange van Israel weerklink! Dis is juis wanneer gelowiges saamkom dat ons aan God lofoffers en dankoffers bring. Dit is lofoffers, dankie-sê-offers wat ons bring as ons saamkom op ’n Sondag. As iemand sê hy het geen behoefte aan sulke gemeentelike samekomste nie, sê hy in werklikheid hy het geen behoefte om aan God ’n lofoffer te bring nie. Hy sê eintlik dat hy niks het waarvoor hy die Here wil loof en dank nie.

So moet dit nie by ons wees nie. Omdat ons glo, omdat Hy vir ons gesterf het, kan ons nie anders nie as om God te loof en te prys vir al sy weldade. Geloof kos iets, dit vra van ons om uit dankbaarheid aan God lofoffers en dankie-sê-offers te bring! God gee om, Hy het sy lewe gegee, daarom gee ons om.

Ds Lana van Rensburg, Koedoesrand

Share via
Copy link
Powered by Social Snap