1 Johannes 3: 11-18

In die lyding van Christus, veral met sy sterwe aan die kruis, word die onverklaarbare liefde van God vir die mens geopenbaar. Die kruis vertel van ’n liefde wat allesopofferend is, ’n liefde wat wil aanraak, verander en vernuwe. In die kruis sien ons wat liefde is. In die dood van Christus definieer God liefde. In 1 Johannes 3: 16 word die praktiese implikasie van God se liefde in Jesus Christus duidelik. Soos Jesus sy lewe vir ons afgelê het, behoort ons ook ons lewe vir ons broers af te lê. Vir Johannes is dit onmoontlik dat ’n kind van God in sonde, broederhaat en ongeregtigheid kan leef. Om bereid te wees om ons lewe vir mekaar af te lê, wil die grense aantoon waartoe liefde bereid moet wees om te gaan. 

Om lief te hê, is iets wat jy moet doen. Dit gaan oor ’n gesindheid in jou hart wat jou barmhartig maak teenoor jou medemens. Barmhartigheid is die smart wat jy ervaar weens die droefheid van ander. As jy jou naaste sien ly, mag jy nie ongevoelig bly nie. Waar God mense verenig, kan niemand vir homself en selftevrede bestaan nie. Sonder die gesindheid is die daad leeg. Sonder die daad is die gesindheid dood. Ons onderlinge verbondenheid moet alledaags gestalte kry in diens en liefde en hulpbetoning. Wie gemeenskap aan Christus het, het ook gemeenskap aan Christus se ander lede. Die Heidelbergse Kategismus sê hieroor: Gelowiges het saam en afsonderlik gemeenskap aan Christus, aan sy skatte en gawes. En daarom is elkeen skuldig om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend. 

Ons kan nie onbetrokke by mekaar wees nie. Ons moet beskikbaar wees vir mense in nood. In ontferming moet ons hulle dien. Ons eerste verantwoordelikheid is altyd om aan mense in sondenood die evangelie van hoop en lewe te verkondig. Wie dit doen in woord en daad, sal ook barmhartig wees in die materiële versorging.

Ds Willem Kok, Potchefstroom

af
af
Deel met behulp van
Copy link