Hebreërs 2: 5-18
Die gawe van die Gees wat ons vandag gaan oordink, is die gawe van insig en sy gepaardgaande deug, geloof.
Die Bybel praat oor insig hoofsaaklik op drie maniere. Eerstens om te kan onderskei tussen goed en kwaad. Tweedens om mense se motiverings te kan onderskei. En dan laastens, om insig te hê in dieper geestelike waarhede. Dit is van hierdie laaste manier dat Hebreërs 2 praat.
Insig kan ons egter alleen hê as ons geloof besit. Ateïste kan die Bybel van voor tot agter opsê, maar as die Gees nie geloof in hulle gewek het nie, kan daardie persone nie insig hê in die dieper geestelike waarhede wat die Woord bevat nie. Die letterlike vertaling van insig is om deur te kyk. Dit is soos om te kyk deur ’n lagie olie wat op water dryf. Dit is nie ’n oë-toeknyp of verbykyk nie, maar ’n deurkyk na die dieper waarheid.
Ons almal word soms moedeloos. Ons voel oorweldig deur allerlei uitdagings. Dan, sonder om dit te bedoel, word ons verstrengel in hierdie uitdagings. Kyk ons net vas teen die brutale realiteit. Dit was die gevaar wat die lesers van die Hebreër-brief ook in die gesig gestaar het. Hulle het geweet alles moes al aan die mens onderwerp gewees het. Maar nou sien hulle alles is nog nie onderwerp nie (vers 8). Dit is asof die realiteit van hul bestaan dreig om hulle te verswelg. Maar dan vestig die skrywer hul oë op iets anders. Hy laat hulle met geloofsoë insig kry in hul situasie: Maar ons sien Jesus… (vers 9).
En wat sien ons wanneer ons Christus sien? Vers 11 sê: Jesus [is] nie skaam om hulle sy broers te noem nie. Dit is die dieper geestelike waarheid wat ons deur die geloof kan insien. Christus het ons deel van God se gesin gemaak. Dit maak nie saak op watter manier ons bedreig word deur hierdie wêreld nie, God is ons Vader, en Hy staan gereed ons te help en te red. Ons moet net ons geloofsoë oopmaak en Christus sien.
Ds Willem Dreyer, Groot Marico
