Johannes 13: 33-35

In die kerklike kalender beleef ons vandag die sewende Sondag van die Opstanding. Jesus se opstanding is die spilpunt waarom ons geloof draai. Dit bring ons by vrae soos: Wat beteken dit vir my, waartoe dring dit my, en hoe verander dit my lewe? Ons gaan vir drie dae stilstaan by hoe Jesus sy dissipels voorberei het om op te tree na sy opstanding, en waarmee Hy hulle toegerus het.

In Johannes 13: 33 begin Jesus deur te sê dat Hy nog net ’n kort rukkie by hulle is, maar Hy gee aan hulle ’n nuwe gebod, naamlik om mekaar lief te hê, soos wat Hy hulle liefgehad het. Hy gee dus ’n voorbeeld – ons moet mekaar liefhê, net soos wat Hy liefde gedemonstreer het. Hy het liefde bewys aan dié wat klein en gering is, aan almal in nood, aan almal wat verstoot en verag is. Die kosbare gedeelte wat Jesus tot hierdie gebod toevoeg, is dat dít is waaraan sy dissipels geken sal word. Hierdie liefde wat hulle teenoor mekaar uitleef, sal hulle identifiseer as sy volgelinge. Jesus sê in hierdie enkele verse dat ’n Christen se identiteit liefde is. Dit kenmerk iemand wat Hom volg.

In die Johannes-evangelie sien ons watter groot rol die liefde speel en hoeveel klem daarop gelê word. Ons ken die bekende Johannes 3: 16: …want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy enige/unieke Seun gegee het… Die hele verhaal van God se bemoeienis met die mens, wat Jesus se geboorte, kruisiging en opstanding insluit, kom dus neer op God se liefde vir ons! Na Jesus se opstanding sien ons dan weer hoe belangrik die liefde is (Joh 21: 15-17). Drie keer vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet, en op grond van daardie liefde gee Hy die opdrag aan Petrus: Laat my lammers wei.

Die evangelie van God se liefde vir die mens, deur Jesus se voorbeeld van onvoorwaardelike en opofferende liefde, dring elkeen van ons tot liefde vir mekaar. Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer (Ges 526).

Gesang 523

Prof Ananda Geyser-Fouché, Universiteit van Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap