Openbaring 2: 8-11

Christus spreek tot die gemeente in Smirna as die een wat dood was en weer lewend geword het (Op 2: 8). Op dié wyse herinner Johannes die gemeente aan die tipe oorwinning en “vrede” wat deur Rome se keisers verkondig is. Dit was ’n oorwinning wat deur geweld bewerk is. Hierdie boodskap of “evangelie” van Rome sou voorop in die gedagtes van die gemeente in Smirna gewees het terwyl hulle die brief van Johannes afgelees het.

Om in Efese ’n goeie burger te wees, sou beteken het om bowenal aan Artemis getrou te wees. In Smirna was daar ook ’n tempel vir Artemis, asook vir verskeie ander gode van die Grieks-Romeinse godedom. Maar waarvoor Smirna bekend was, was hul toewyding aan die welstand van die ryk van Rome. Die Romeinse skrywer Tacitus vertel hoedat daar in Smirna gesê is dat hierdie stad die eerste was wat ’n tempel ter ere van Rome gebou het, asook bereid was om die klere aan hul eie lywe in tye van nood aan die soldate te stuur.

Vanuit Openbaring 2: 8-11 sien ons dat hierdie gemeente nie gedeel het in die oortuigings van die res van die mense in Smirna nie. Anders as in die brief aan Efese (Op 2: 4) of Pergamum (Op 2: 14), word daar nie vir hulle vertel dat Christus iets teen hulle het nie. Smirna se gemeente het hulself toegewy, nie aan die evangelie van Rome nie, maar aan dié van Christus. Hulle het nie geglo dat vrede en oorwinning op die Romeinse manier bewerk kan word nie, maar eerder deur die evangelie van God, soos deur Christus verkondig. Daarom dat hulle nie ’n kroon van outoriteit (diadema in Grieks) ontvang nie, maar eerder ’n kroon van lewe (stefanon in Grieks; Op 2: 10).

Wanneer ons hierdie teks lees, word ons ook voor ’n keuse gestel: ’n keuse vir óf die evangelies van die wêreld, óf die evangelie van God.

Here, leer en lei ons vandag om die evangelie van liefde en vrede te kies en uit te leef. Amen.

Ds Robert van Niekerk, Noordelike Pretoria

Share via
Copy link
Powered by Social Snap