Haggai 2: 1-9

Na die ballingskap beleef die volk moeilike omstandighede in hul land met droogte, misoeste en vyandelikhede van die buurvolke. Die volk vra die profeet Haggai waarom die Here hulle nie help en uitkoms gee nie.

Toe het die woord van die Here deur die profeet gekom: Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê? (1: 4). Haggai wys verder daarop dat dit met die volk nie goed sal gaan nie alvorens die Here weer ’n “woonplek” het om na terug te keer. Hoe sou hulle kon verwag dat dit met hulle goed gaan terwyl die huis van die Here in puin lê? Haggai sê vir die volk: Die Here is by julle. Hierdie woorde het die volk met ontsag vervul en hulle het die bouwerk aangepak (1: 14).

Haggai beklemtoon dat die Here eerder wil seën as om te oordeel. Haggai lê klem op gehoorsaamheid aan die Here teenoor die najaag van eie belang. Hierdie gehoorsaamheid word geopenbaar in praktiese dade soos die herstel van die huis van die Here, die opgaan na die huis van die Here en die luister na die woord van die Here.

Later het die woord van die Here weer deur Haggai gekom. Die volk word daarop gewys dat hierdie herboude tempel nie naby die prag van Salomo se tempel kom nie. Nogtans verseker die Here die koning, die hoëpriester en die volk: Skep moed! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here (2: 4). Die Here bevestig opnuut die belofte wat Hy gemaak het tydens die uittog uit Egipte: …my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! (2 :5).

Terwyl ons besig is met die laaste dinge voordat ons die koms van Jesus herdenk, het ons steeds rede om rustig te volhard in ons diens aan die Here. Hoe moeilik ons omstandighede ook al mag wees, die oproep van Haggai bly steeds geldig: Skep moed, want my Gees is altyd by julle. Moenie bang wees nie! Ek sal aan julle vrede gee, sê die Here.

Dr Frans Boshoff, Emeritus/Chrissiesmeer

af
af
Deel met behulp van
Copy link