Sefanja 1: 2-18

Sefanja se mense het gevoel God raak nóg kant nóg wal as dit kom by praktiese  goed. Ons slimmigheid laat God deesdae ook so dom lyk. Denke gee mos die deurslag. Ons werklikheid is ’n menslike maaksel, iets wat ons self uitdink. Hierdie skepsel van ons is kwansuis ook die beste werklikheid waarop ons kan hoop. Is dit nie juis waffers nie, maak jy maar gelate vrede daarmee. Want op God wag jy tevergeefs om dit beter te maak.

Sefanja sê nee, ons het God en die werklikheid heeltemal mis. Dit is wel waar dat nie God nie maar óns op die dag wanneer die Here kom, gaan moet rekenskap gee oor wat van hierdie wêreld word. Dog, daar is ’n gekkigheid onder ons om die Bybel te wil uitlê net om kalenders te kan skryf, sodat ons vooruit ’n vervaldatum vir die skepping kan bepaal. Ons soek ’n datum vir die dag van die Here, want dis duidelik nie vandag nie. Wat ons met vandag aanvang, maak dan geen saak nie.

Maar Sefanja val nie in dié gat nie. Ons gaan verantwoording moet doen van wat ons vandag doen, sê hy. Hierdie is dalk nie die laaste dag nie, maar dit ís die Here se dag. Sefanja lei dit af uit die lang geheue van Israel: Die geskiedenis leer ons God is elke dag betrokke, en nie van plan om uit- en af te tree nie. Ons dink God is vir alle praktiese doeleindes uit die prentjie uit en maak geen verskil meer nie. Maar God kom. Daarvan kan jy seker wees. God ís van vandag al in beheer, al sê die wêreld iets anders.

Dis goed dat ons onrus het oor vandag. Dis die hele idee: dat ons die Dag van God verwag maar ’n verskil maak aan vandag. As dit jou bekommer, neem dan vandag jou toevlug tot God. God het vandag aan jou toevertrou.

Ds Hennie la Grange, Kampersrus

af
af
Copy link