Psalm 123

Soms het pelgrims nodig om hul pyn, magteloosheid of vernedering voor God uit te roep en te smeek om uitkoms. ’n Voorbeeld hiervan is die klaaglied wat Psalm 123 is. ’n Voorganger bely voor almal waar hy sy vertroue vind: by die hemelse Koning. God is hul beskermheer en hulle sy afhanklikes. In hul nood is Hy hul toevlug. Hy sal hulle aanhoor.

Hierdeur aangespoor, bevestig die gemeente dat hulle God ook beskou as beskermheer met die metafoor van ’n eienaar/eienares en slaaf/slavin. Soos slawe, wat die afhanklikes van hul eienaar is, vertrou hulle op God vir uitkoms. Eienaars het nie eens nodig gehad om opdragte woordeliks te gee nie. Handgebare was genoeg. So was daar gebare wat aangedui het dat hulle moes naderkom, of watter werk gedoen moes word, dat hulle moes gaan eet of uitval na die dag se werk. Slawe het hul eienaars fyn dopgehou om nie sulke handgebare mis te kyk nie. So bely die gemeente hul afwagting op God se uitkoms.

Hulle bevestig die afwagting met ’n noodroep: Ontferm U oor ons, Here! Van vernedering en veragting het hulle genoeg gehad. Hulle kan nie meer nie…

Sulke tye van magteloosheid, pyn en vernedering is deel van menswees. Ons ken dit. Genadiglik het ons God se ontferming leer ken, want sy Seun het Homself verneder en die gestalte van ’n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword, tot in die dood aan die kruis gehoorsaam. Te alle tye is ons oë gerig op die deurboorde hande van ons Here aan die kruis, uitgestrek om die mensdom te seën. Dankbaar vir God se ontferming, leef ons met hoop en tevredenheid, selfs midde-in magteloosheid, vernedering en pyn. Daarom bly ons sy diensbare afhanklikes, immer dankbaar om Hom as Beskermheer te hê.

Psalm 42: 1-5 (Lina Spies)

Dr Gert Malan, Mosselbaai

af
af
Deel met behulp van
Copy link