Genesis 1: 20-27
Daar is ’n teorie wat onlangs op sosiale media die rondte gedoen het, waar die skepping uit ’n ander hoek bespreek is. Die teorie meen dat seewesens vanuit die see vir die see geskep is deur die Here om daar ten volle te leef. So is die voëls ook geskep op die land om te leef op die land en te vlieg in die lug. Sou dit gebeur dat die seewesens uit hul habitat geneem word, en hulle byvoorbeeld op die land neergelê word, gaan hulle tot sterwe kom. So ook as voëls tot op die bodem van die waters geneem sou word. Die rede hiervoor is eenvoudig dat die skepsels van God geskep is om in hul habitat te leef en daar geseënd te wees.
Ons lees egter in Genesis dat die mens geskep is na die beeld van God, met die doel om as beeld van God ook te heers oor die visse, voëls, diere en die aarde. Die teorie lui dan dat die mens nie in ’n habitat geskep is nie, maar eerder dat ’n habitat in die mens geskep is. Die mens is geskep met ’n habitat wat die Here vul, wat uiteindelik die beeld van God uitstraal. Sou die mens deur hul keuses, geloof en toewyding daardie habitat laat vul met die Gees van God, sal hulle die volheid van die skepping kan uitleef soos wat God hulle geskep het om te doen. Sou hulle egter daardie habitat vul met iets anders, soos materialisme, selfsug, hebsug, ensomeer, beleef hulle ’n soortgelyke worsteling as die visse wat uit die waters gehaal word.
Dit bly nou maar net ’n teorie, maar een van die gedagtes wat ’n mens wel prikkel, is juis oor hierdie habitat binne-in ons. Vir wie en wat gee ons toegang om hierdie heilige ruimte in ons lewe te vul?
Mag ons opnuut besef dat God in ons leef sodat ons kan leef in God.
Ds Schalk Zastron, Ermelo